Kommunisme was Karl Marx en Friedrich Engels se antwoord op korrupsie en hebsug. Hulle het belowe dit sal 'die uitbuiting van een deel van die samelewing deur die ander' uitskakel om 'n utopiese paradys op aarde te skep. In werklikheid was dit egter wat Richard Wurmbrand (wat veertien jaar in die gevangenis deurgebring het vir sy geloof) die 'hoofvyand' genoem het. Nadat hy uit Roemenië losgekoop is en in die Weste aangekom het, het Richard gepraat oor Kommunisme se uitwerking op Christene en Christendom: 'Ek kan nie saamstem met evangeliste en sendingdirekteure wanneer hulle sê dat vandag se grootste vyand die materialisme van die Weste is nie. Vandag is die vernaamste vyand Kommunisme. Kapitalisme kan sy euwels hê, maar dit gee aan die kerk die vryheid om te werk vir die redding van siele. Kommunisme ontwortel godsdiens. Die sendingenergie moet op die Kommunistiese lande gekonsentreer word.' Hy het dit in 1969 geskryf, maar Kommunisme gaan steeds voort om God se mense wêreldwyd te bedreig en te onderdruk.